lien botha
a photographer's geography - lien botha
art reviews biography contact


FMR Kunskalender


Amanda Botha , Radiouitsending , Woensdag 7 Oktober om 13h30

Met al die voortreflike kunsuitstallings wat tans in Kaapse kunsgalerye te sien is, wil ek vandag graag Lien Botha, kunstenaar en fotograaf, se negende solo-uitstalling, Parrot Jungle, uitsonder. Die uitstalling met 45 werke wat persoonlike merkers op haar gereelde reis tussen Bettysbaai en Kaapstad aandui, is ook haar eerste werk met 'n digitale kamera. Hierdie uitstalling in The Photographers Gallery, Kortmarkstraat 63, Kaapstad, duur nog tot 30 Oktober.

Wat dadelik opval, is die afwesigheid van die bekende gebruik van ondersteunende media soos tekenwerk, teks of driedimensionele elemente wat haar werk van die afgelope 15 jaar gekenmerk het. Dalk is dit juis die rede waarom Bronwyn Law-Viljoen in haar essay tot die katalogus skryf dat dit Botha se mees "fotografiese" uitstalling tot dusver is. Wat 'n mens dadelik tref, is dat die digitale vaslegging van beelde op hierdie uitstalling 'n gestrooptheid toon waarin eenvoud skoonheid word, maar tog nie sonder Botha se gebruiklike tikkie surrealisme en humor nie.

Parrot Jungle is 'n stel heel persoonlike foto's van mense en plekke - beelde wat deel is van 'n alledaagse reis tussen haar huis op Bettysbaai en haar werk, meestal in Kaapstad en omgewing. Om na die uitstalling te kyk, is om saam met haar te reis en langs die pad die merkers te sien wat sy oor haar jare op die reis raak gesien het, maar nou vir die eerste keer stilhou om van nader te beskou - dus plekke en mense wat goed aan haar bekend is - en ook juis nuwe beelde wat ontdek word wanneer stil gehou word om spesifiek aandag daaraan te gee.

Die bakens op die reis is Bettysbaai, Hangklip, Kleinmond, Somerset-Wes, die Strand, Firlands, Groenpunt en interieurs van die Suid-Afrikaanse Museum in die Kompanjiestuine asook die Italiaanse klub in Milnerton. Iewers is 'n fyn draad wat dit vir Lien Botha aanmekaar laat skakel - vir die kyker is daar die vreugde en bekoring van die raak poŽtiese beelde wat 'n nostalgie oproep en ook 'n verwondering in die alledaagse wil vier. Maar tog is dit ook nie so eenvoudig nie. Op 'n ander vlak is dit asof die kyker betrek word in die oerwoud van ons daaglikse bestaan - fisies en geestelik. Sů 'n halfpad merker op die reis is die byna absurde beeld van 'n padteken met 'n reuse parakiet op die R44, Firlands-pad wat 'n afdraaipad na 'n vrugtekwekery aangee. Deurgaans is die fokus in hierdie werke op 'n wye landskap van haar onmiddellike omgewing rondom Bettysbaai teenoor verwante en onverwante objekte op haar gereelde reise na Kaapstad.

Na baie jare is hier in Botha se werk weer 'n sterk dokumentÍre aanslag. Sy dokumenteer mense wat aan haar bekend is en vir die eerste keer verken sy ook die genres van die portret - en naakstudies. Die portret-genre is vir Lien Botha 'n nuwe vertrekpunt en geoordeel aan die werk, veral die studies, Ronel met 'n Indiese Rooinek parakiet, Bettysbaai en Elmine Boonzaaier en Popeye, Bettysbaai, laat 'n mens opgewonde uitsien na meer.

Die uitstalling open met 'n werk, getiteld Helene Lambert se boek, Bettysbaai, wat 'n pragtige ou boek, Histoire des Jardins, verbeeld. Net die voor -en agterplat en die gebreekte rug word getoon. Dat die boek 'n nostalgie oproep, ook 'n aansluitingspunt aandui met Botha se vorige uitstalling Amendment (2006) is so, maar tog voel die kyker dat die omslag iets veel meer wil vertel van 'n lewe in wie se hande die boek as kosbare kleinood behoue gebly het. Hier is reeds 'n aansluiting by die bekende - en die vreemde - wat die kyker deurgaans in hierdie boeiende uitstalling met verwondering laat. Kyk jy dan later in die reeks na die boekeienaar se interieur en die foto's van haar dogters kan jy nie anders as om oor haar lewe te wonder nie - 'n lewe gestroop van weelde, ingebed in die herinneringe van 'n verlede. Die toonaard hier is deurgaans die van die memorie.

Dit is dalk om hierdie rede treffend dat die laaste werk 'n studie is van twee jongmense, Lebo en Ntombe, in die Kompaniestuine in Kaapstad.. In kontras met die Lambert memoires is hulle geplaas in 'n weelde tuin wat die nabyheid van 'n Afrika-landskap deurgee met twee mense wat 'n ander lewe dokumenteer - 'n nuwe hoofstuk wil skryf.

'n Opwindende uitstalling wat nog tot 24 Oktober besigtig kan word en ook 'n aansluiting het by Lien Botha se uitstalling Parrot Jungle het, is die uitstalling, Visitor, wat deur Liza Grobler en genooide kunstenaars aangebied word in die Irma Stern Museum in Rosebank. Verskeie kunstenaars is genooi om elk 'n daglank as resident-kunstenaar in die huis en ateljee van die gevierde Irma Stern op te tree. MŰre is dit juis Lien Botha se beurt. Hier kan die besoeker Botha in aksie dophou. Dis 'n rare geleentheid, benut dit as jy kan.

'n Rondleiding van die uitstalling, Visitor, in die Irma Stern Museum onder die kuratorskap van Liza Grobler word Saterdag om 11 uur aangebied.

Om net weer te herinner - Lien Botha se uitstalling, Parrot Jungle, is nog tot 30 Oktober in The Photographers Gallery, Kortmarkstraat 63, Kaapstad te sien en die uitstalling Visitor, waaraan Botha ook deelneem, kan nog tot 24 Oktober in die Irma Stern Museum in Rosebank besigtig word met 'n rondleiding Saterdag.

Wat interessant is, is die eerste insluiting van portretstudies -

FMR Kunskalender - Radiouitsending op Woensdag 7 Oktober om 13h30