lien botha
a photographer's geography - lien botha
art reviews biography contact


Maak se aard beklemtoon
Lisbe Smuts, Die Burger, May 4, 2004
TENTOONSTELLINGS: I want to be famous - skilderye deur Lizza Littlewort, en Ukuvuka - To arise - gemengde media deur Timothy Zantsi en 'n gesamentlike fotoprojek deur Lien Botha en Mariella Poli. In die Vereniging vir Visuele Kunste (VVK) se galery in Kerkstraat 35. Tot Saterdag.

LIZZA LITTLEWORT se portretstudies word uitgestal saam met 'n gedrukte teoretiese skryfstuk wat 'n raamwerk vir haar 13 olieverfskilderye skep. Met I want to be famous word roem oorweeg, veral as 'n produk van 'n selebriteit-kultuur wat deur die massamedia uitgebou en in stand gehou word.

Dié verdrukkende kultuur, wat volgens Littlewort die matrys skep vir 'n dogter wat deur Barbie-faam gehipnotiseer word en 'n jong seun wat 'n speelgeweer begeer, word oorweeg as die (moontlike?) vormgewer van 'n kunstenaar wat sê "I want to be famous" - ook Littlewort.

Die portretskilderye beeld "baie jong" kunstenaars uit. Hulle is almal "Ê... pront-uit oor die voorneme om roem na te streef". En die skilderye is 'n poging om die "voorwaardes vir roem rondom die uitgebeeldes" te "rekonstrueer".

Die behoudende en soms veredelende aard van formele portretkuns word deur Littlewort gekies veral om in teenstelling te staan met die skeppinge van die "fame machine". Maar haar skilderye gebruik nie die formele of erkende tegnieke van portretkuns op 'n parodi‘rende manier of om kommentaar te lewer nie. Formele portretstudies het veral die tegnieke van tekenwerk, realistiese voorstellings of onkonvensionele verbuigings en abstraksies van die figuur tot 'n kuns verfyn. Baie van die portrette voldoen nie aan dié verwagtinge nie, byvoorbeeld die portret van Danny and Masha, die twee met die onbeholpe, slapgeskilderde arms en ineengevlegte hande.

Om die kloutjie by die oor te bring, is moeilik: Die teorie en praktyk van hierdie uitstalling strook nie. Tematies is die uitstalling nie goed deurdink nie. Geldige kwessies word wel deur I want to be famous na vore gebring. Maar die ingeligte kyker weet hoe eietydse teoretici soos Suzi Gablik hierdie vrae formuleer en pleit vir 'n hermitologisering van kuns en 'n rekonstruksie van die waardestelsels van ons gemeenskappe. Frederic Jameson problematiseer die vrae en verwys na 'n "homeopatiese" opsie, wat nie op koöptering neerkom nie, maar die moontlikhede oorweeg om kuns binne die alledaagse gangbare te integreer en sodoende geleenthede vir die transformasie van waardesisteme te skep.

Daar is verskillende moontlikhede vir die ingeligte kunstenaar anders as die binêre opposisie-kunstenaar teen(oor) gemeenskap.

Lien Botha se uitstalling sluit 'n poëtiese woordteks in: "Imagine our worldÊ..." En dit ’s die verbeelding wat met hierdie uitsonderlike fototentoonstellings uitgedaag word.

Botha se vier tweeluike gee fotobeelde van die stadhuis in Kaapstad, van geskeurde gordyne, die kunswerke en die werknemers, en dit skep 'n sprekende kontras met Mariella Poli se stadhuis in San Francisco.

Poli stel hierdie openbare ruimte voor deur haar fokus op gepoleerde oppervlakke, marmer, borsbeelde en majestueuse argitektoniese ontwerp. Dit word verbeeld as nie 'n neutrale ruimte nie, maar een wat raakgesien word vir die mag wat mense kan onindividualiseer en gelykskakel.

Deur haar keuse van die tweeluik beklemtoon Botha se kunswerke die foto as fragment, as 'n keuse en 'n stolling. Deur die woordteks word 'n beroep op die verbeelding gemaak om die ruimte uit te brei om mense in te dink, hul woorde, om vir die binneruimte 'n buiteruimte te gee, 'n aaneenlopendheid, 'n geskiedenis, soos die geskiedenis van 1990 toe Nelson Mandela voor die stadsaal sy beroemde toespraak gehou het.

Met hierdie fototentoonstelling word die kyker bewus van die fotokuns as dokumentasie, maar ook as die skerpsinnige blik van die twee puik kunstenaars. 'n Mens kan hierna op 'n ander manier sien.

Timothy Zantsi se multimedia-werke Ukuvuka - To arise kombineer afvalmateriaal en optelgoed, koeldrankblikke, draad, lepels, en so meer. Die meeste werke het dieselfde vorm, grootte en paneel-verdeling en slaag veral as kleurryke groeperings. Mense, loslopende hoenders, woonplekke, 'n kerk, 'n kleinhuisie, en so meer word uitgebeeld - dikwels met humoristiese kommentaar op die kunstenaar se omgewing.

Baie van hierdie werke kort egter verdieping; die proses van metaforisering of die gebruik van inheemse patroonkuns kan uitgebrei word.

In sy geheel beskou, beklemtoon hierdie uitstalling kuns as 'n aktiwiteit wat van alledaagse bestaan bewus is. Marcel Duchamp het reeds in die jare sestig beklemtoon dat die woord kuns "maak" beteken (as 'n mens die Sanskrit-oorsprong van die woord aanvaar). Vakmanskap word hierdeur beklemtoon, maar ook die proses van "maak" waaraan nie net die kunstenaars nie, maar ons elkeen daagliks deelneem.